God kies nie die bekwames nie, Hy bekwaam die wat hy kies.
— Anoniem


Die eerste GEKA gemeente is in 2004 in die Noorde van Perth (Clarkson) gestig en het op daardie stadium as die Perth Afrikaans Reformed Church(PARC) bekend gestaan. Sedert 2009 is die denominasie as die Gereformeerde Evangeliese Kerk (GEKA) in Australië bekend. Na gereelde besoeke deur ds Gawie van der Merwe word Bunbury GEKA op 18 Oktober 2009 gestig. Ds Gawie Cloete, leraar van Mariental in Namibië, word in Februarie 2011 die eerste predikant wat na die Gemeente beroep word. Na slegs twee maande het die Gemeente so gegroei dat die standplaas opgegradeer is na ‘n voltydse bediening. GEKA Bunbury gaan steeds van krag tot krag. Die Gemeente woon ywerig eredienste by, maar is ook by werk in die Gemeenskap betrokke. Behalwe vir die Geestelike aktiwiteite is daar talle kuiergeleenthede. Ook die wors wat deur die Gemeente gemaak word, vind groot byval. Op 5 Junie 2020 aanvaar ds Gawie Cloete ‘n beroep na Brisbane. Die Gemeente besluit om weer te beroep en ds Willie Botha, wat saam met Tania en hulle gesin sedert Maart in Bunbury woonagtig was, word op 25 Oktober 2020 die tweede leraar van die Gemeente. Die gesinskarakter van die Gemeente is sekerlik een van die sterkpunte. Die voorreg om na afloop van eredienste in Afrikaaans te kan kuier is ‘n groot voorreg. Dit bly een van die mooiste gesigte om te sien hoe elke gemeentelid sy of haar kant bring. Ook die kinders neem met groot vreugde aan aktiwiteite deel. ‘n Saak wat tydens huisbesoek al meer na vore kom is die verengelsing van ons kinders. Soos elders in die wêreld bly dit ‘n groot uitdaging om mense wat Afrikaans verleer, saam met persone wat Afrikaanse eredienste hoog op prys stel te akkommodeer. Veral as dit lede van dieselfde gesin/familie is. Die Here hou egter self sy kerk in stand. ‘n Goeie voorbeeld daarvan sien ons wanneer ds Petrus Dreyer, en sy vrou Willemien, en kinders, ook na Bunbury emigreer. Op die Gemeentevergadering van 26 Februarie 2023 word besluit om ‘n verdere pos te skep en ds Petrus Dreyer as tweede leraar van die Gemeente te beroep. Hy word op 16 April 2023 in die Gemeente as Predikant bevestig. Ds Petrus word spesifiek beroep met die opdrag om Virtuele bediening te bevorder, asook om twee keer per maand gelyklopende Engelse eredienste aan te bied. Intussen behartig ds Willie die “tradisionele” bediening van die Gemeente. Tans bied die Gemeente ‘n aktiewe weeklikse program met Eredienste altyd die hoogtepunt van ons samesyn. Terselfdertyd bedien die Gemeente die groter gemeenskap deur ‘n aansienlike Virtuele voetspoor op te bou. Ook die bywoning van die Engelse eredienste is besig om bo verwagting te groei. Ons is diep dankbaar teenoor die Here dat ons as Gemeente steeds in Sy diens kan staan, en daagliks deur Sy Woord en Gees geïnspireer word.